SOAPkidz 5 Challenge

2011-04-22


View photo album
Back to past events
Print this page

SOAPkidz CHALLENGE

CATHEDRAL PEAK

By MIEMIE THERON

Twintig stappers was so bevoorreg om in die Drakensberg te kon stap die afgelope Paasnaweek. Die stap was deel van die SOAPkidz Mountain Challenge, waartydens vyf SOAPkidz meisies die geleentheid kry om saam met die BKSA Magalies Afdeling tot bo-op die Drakensberg te stap. Die eerste ‘oefening’ was paar weke vroeër in die Magalies, en hierdie was die tweede stap ter voorbereiding en keuring van die vyf gekose meisies.


Maar dit was nie al nie – 4 SOAPkidz vrywilligers het saamgekom, asook ou bekendes Mathilda Nel met seuns Ivor en Thomas, al die pad uit Kaapstad, en Frieda Theron met dogters Roelien en Danelle vanuit Vanderbijlpark (na 3 jaar verblyf in Kanada). En met studente van Maties, TUT, Potch en Tukkies het dit sowaar gevoel soos ‘n nasionale byeenkoms!


Maar om te begin by die begin….om op Paasnaweek te ry, kan maar ‘n riller wees. Maar heel gerus dat die ergste verkeer Vrydag al op die pad was, is ons vroeg Saterdag-oggend weg uit Pretoria. Alles het baie voorspoedig verloop, tot ek om ‘n draai kom en die Toyota Condor met die SOAPkidz meisies afgetrek sien staan langs die pad, met die ‘bonnet’ oop. Om lang storie kort te maak – na die meisies bykans drie uur tussen Villiers en Warden gewag het vir plaasvervanger motor vanaf Kriel, was ons nie meer op skedule om die nag in Xeni-grot te slaap nie. Na ‘n oproep na stapper-dominie op Bergville, kon ons darem slaapplek kry die aand in Bergville se kerksaal. Heel gerieflik, veral omdat ons die laaste reën van die koue front daar gekry het.


Sondag-oggend kon ons darem vroeg wegkom, en sonder enige verdere voorvalle het ons ingeteken by Didima en begin stap in die rigitng van Mhlambonja-pas. Die eerste stuk is lekker maklik – stap langs rivier op in vallei, maar met pragtige uitsigte op die eskarp, en die herfskleure van die Onder-Berg. Die pleisters is wel gou-gou uitgehaal – sal nie name noem nie, maar iemand se toonnael het die vorige dag geskeur….toe sy geskrik het vir spinnekop in die motor! En nie lank daarna nie het Zodwa, een van die SOAPkidz meisies, se bootse gekalf. Maar nadat Andrew haar boots met ‘cable ties’ en ‘duck tape’ gedokter het, is ons weer vort. Op met die zig-zag paadjie net voor Neptune poele, en tot by die kontoerpad. Gelukkig vir ons was daar groot oopte waar ons gemaklik al ons tente kon opslaan vir die nag, met water nie t ever daarvandaan nie.


Die tweede dag se stap was besonder mooi, maar nogal rof (as mens in ag neem dat dit die kontoerpad was). Ons moes heelwat kere bundu-bash, en met tye is die paadjie smal en uitgetrap. Die hele dag traverse mens van een kloof na die volgende, met die mooiste uitsigte vanaf die Bell en Cathedral Peak aan die een kant tot so ver as Gatberg in die suide. Ons mikpunt was om net voor Tseketseke-pas te slaap, en dit was die beste keuse nog. Daar was weer baie groot spasie vir tente, maar dit voel of jy in ‘n amfiteater slaap – amper omring deur berge. Ons was vroeg, so kon gemaklik regmaak vir die nag, en terwyl Miemie en die SOAPkidz met mondfluitjie en lekker-liedjieboek musiek gemaak het, het res baie lekker gekuier rondom die aandete se voorbereidings.


Die derde dag het ons afgesak in Tseketsekekloof, waar Francois en Miemie gelukkig was om hul seun Andre, wat leier was van ander groep en die vorige dag afgekom het met Tsekestseke-pas, te sien. Na lekker swem in die poele is ons weer vort. Na ons uit die kloof uit was, het die pad baie oper geraak en was dit maklike stap tot by die Old Staff Accommodation, bokant Mikes Pass. Carina, een van die SOAPkidz vrywilligers het al op die eerste dag haar enkel seergemaak, en ons kon gelukkig reël dat een van Didima se gidse 4 van ons stappers en klomp rugsakke kom oplaai die volgende oggend. Na onderhandelings by Didima, is die res van ons ook kom haal met ons eie voertuie. Dit was ook maar nodig, want die pad terug huis toe was lank – en ons moes natuurlik nog die toerete inpas by Harrismith se Spur!


Om op te som - die weer was ons genadig, en behalwe vir windvlae af en toe, het ons eintlik baie goeie weer gehad. Die jeug het weereens die getalle oorheers - dis lekker om soveel jongmense en kinders in die Berg te kon sien. Veral die SOAPkidz meisies was verwonderd oor hoe skoon alles is, geen besoedeling nie en mens kon selfs enige tyd water uit die riviere drink. Dis voorwaar voorregte waaraan ons nooit te gewoond kan raak nie!


Carina with torn ligament

Carina with torn ligament


Group Picture at Spur

Group Picture at Spur


SOAPkidz mountain challenge Group

SOAPkidz mountain challenge Group


SOAPkidz pitching tent

SOAPkidz pitching tent


SOAPkidz stuck for the night

SOAPkidz stuck for the night


The girls on their way

The girls on their way


Theo and Ithumeleng

Theo and Ithumeleng


Zodwa and hikers

Zodwa and hikers





View photo album